Straatligkinders

Straatligkinders is terug met 'n tweede vollengte studio album, Sweef soos 'n vuishou. Net soos die vorige aflewering van hierdie toekenning-bekroonde groep, Bloeisels, is al hierdie liedjies hard, rou en eerlik. Met Sweef Soos 'n Vuishou is die liedjies by kere nog harder, nog rouer en nog meer eerlik.


Hierdie keer is daar elf splinternuwe liedjies met 'n versteekte snit iewers tussen die elf. Die album begin met elektroniese klanke wat die groep 'n hele nuwe aanslag gee. Die elektroniese klanke verander dan in 'n harde kragtige intro en daarna vloei dit in die eerste song in, Neem My Weg.


Neem my weg, wat ook begin met 'n paar elektroniese klanke is 'n uitstekende begin vir die album. Bouwer lewer sy skree in die eerste 10 sekondes van hierdie liedjie.

 
Ook op die album is daar liedjies oor hoe om te veg en op te staan vir iets wat goed en reg is, sonder dat daar bloed moet vloei, sonder geweld. Dit is maar basies opgesom wat Sweef Soos 'n Vuishou beteken.


"Gewonde Standbeeld" is sekerlik die beste opsomming vir die album. Hierdie liedjie bevat ook 'n toespraak van Nelson Mandela wat oor helde handel.

 
Nog 'n interresante liedjie op die album is die "Desvalido" wat Underdog in Spaans is. Op hierdie liedjie sing die hip-hop groep Kold Produk die verse terwyl Straatligkinders sorg vir die musiek, Bouwer vir die melodiese koor en DJ Soosh vir die scratching.

 
Daar is ook 'n disko-geïnspireerde liedjie wat reeds meer as 4 500 keer gespeel is op MySpace.com

 
Kyk ook uit vir die epiese laaste liedjie en die hardcore "Gebrande Lippe" wat baie geïnspireer is deur Internasionale groepe soos Norma Jean, Underoath en Alexisonfire.

 
Hierdie album is beskikbaar op 13 November landswyd.